Vandag presies 25 jaar gelede, het president FW de Klerk vir 'n parlementsopening gesorg wat min hom sal kan nadoen, danksy 'n toespraak wat die mees siniese ontleder laat regop sit het. Nie net is die PAC, die SAKP en die ANC ontban nie, maar De Klerk het hom in die geskiedkundige toespraak ook verbind tot die vrylating van Nelson Mandela. Boonop is 'n moratorium op die doodstraf geplaas en die beperkings op die vryheid van die media is opgehef.