President Jacob Zuma sê Suid-Afrika het 'n wêreldbekende wetenskaplike en unieke mens verloor met die dood van die paleo-antropoloog, prof. Phillip Tobias. Die 86-jarige Tobias het gister by die Donald Gordon Mediese Sentrum in Johannesburg aan prostaatkanker gesterf. Hy is beskou as een van die wêreld se uitstaande intellektuele, wat 'n ongelooflike vermoë gehad het om die wetenskap te ontsyfer. Tobias het meer as 10 000 studente opgelei en baanbreker-navorsing gelei oor die oorsprong van die mensdom.