Sy reis na Kaapstad het al verlede Maandag by die St. Blaize-grot in Mosselbaai begin. Piet Bêrend (dis sy Afrikaanse naam) is een van tien Boesmans van die Kalahari wat tans te voet na die Parlement op pad is. Hulle gaan daar 'n memorandum oor die regte van inheemse volke oorhandig. Hulle behoort teen môre daar aan te kom, sonder 'n afspraak, en dit op dieselfde dag as wat die minister van finansies Pravin Gordhan sy begrotingsrede lewer. Maar dit skeel Bêrend min, want wêreldwyd luister mense wanneer hy praat.